Bewaar jou hart

Bewaar jou hart

Bo alles, wees versigtig met wat in jou hart aangaan. Wat jy dink, bepaal alles wat jy doen.
~Spreuke 4:23

Ons gedagtes is baie keer soos ‘n “Wag-‘n-Bietjie” bos. Aan die begin lyk dit of dit waaraan ons dink en onsself aan blootstel, baie onskuldig is, maar as ons weer sien is dit waarin ons verstrengel en vasgevang raak.

Natuurlik is dit moeilik om te onderskei tussen denke en emosies. Ons emosies speel ‘n groot rol in wat ons dink, en doen. As ons eers vasgevang word in denk patrone en doen en late wat ons dink reg is, maar nie in lyn is met God se Woord nie, kan ons nie vorentoe beweeg nie. Hier haak ons vas. Dit is dus so belangrik om versigtig te wees aan wie en wat jy jouself blootstel. Die Bybel sê uitdruklik dat ons nie die duiwel ‘n vatkans moet gee nie.

Hoe bewaar jy jou hart?

• Wees altyd op die uitkyk vir sulke haak- en – steekbosse. Probeer om in die eerste plek nooit in so ‘n penarie te beland nie. Bou filters in jou lewe in wat soos radars die dinge wat nie goed is vir jou, en tot hartseer gaan lei, betyds sal optel. Ek glo dat ‘n mens weet wat die regte ding is om te doen as jy na daardie klein stemmetjie in jou luister, die een wat jou voor die tyd waarsku om iets nie te doen of te lees nie. Die Bybel sê dat wysheid begin met die dien van die Here! Maak seker dat jy ingeprop is by die Heilige Gees…

• Net so moet jy ook versigtig wees wie en wat jy om jou toelaat en mee tyd saam spandeer. Iemand het een keer gesê dat jy die gemiddeld is van die 5 mense wat jy die naaste aan jou toelaat. Die mense om jou lewe hulle eie beginsels en waardes, so maak seker dat jou vriende se lewenstyl en beginsels strook met joune, en ooreenkomstig is met God se riglyne.

• Wanneer jy nou wel in ‘n haak-en – steekbos vassit, is dit belangrik om kalm te bly en rustig te word. Hoe meer jy spartel en beweeg, hoe meer gaan die dorings jou gryp. Ons leef in ‘n wêreld waar ons geleer word om dadelik aksie te neem as iets gebeur. Besluit doelbewus om te gaan stil word, Wagibiki, en kyk na die situasie met objektiewe oë. Slegs as jy rustig is kan jy saam met Jesus uit enige situasie waarin jy jouself vind, loskom. En ja, alles in die lewe is ‘n keuse.

• Begin op ‘n punt. Jy kan nie altyd al die dorings op een slag uithaal nie. Die krag van een enkele doring is min, maar die gesamentlike krag van al die dorings maak dit onmoontlik om los te kom. Wanneer jy voel dat jou lewe dalk nie meer sin maak nie en dat jy vassit, word kalm en begin by die dinge waaroor jy beheer het. Fokus op een doring op ‘n slag.

• Moenie by allerhande ander dinge betrokke raak en paniekerig word nie. Sommige mense is so verstrengel in soveel dorings van verskillende bosse dat hulle nooit daar kan uitkom nie. Moenie net fokus op die enkele doring nie. Fokus daarop om dinge te prioritiseer en eers een ding af te handel voordat jy ‘n nuwe aanpak. Soveel hartseer in verhoudings kom van die feit dat jy dikwels twee mense kry wat elkeen in hulle eie bosse vassit en hulle dan probeer hande vat.

• Jy kan nie vir ewig in die bos vassit nie. As jy so vasgevang is kan jy eintlik basies niks doen of van niks af vlug nie. Jy kan na geen kant toe beweeg nie. Weet dat dit gevaarlik is om vas te sit. Jy het soms hulp nodig. Ons erken dit nie altyd nie. Daar is dorings waarby jy nie kan bykom of kan sien nie, en daarvoor het jy hulp nodig. Jy het die mense wat jy vertrou se hulp nodig. As die dorings diep gesny het, het jy selfs dalk hulp, soos ‘n dokter s’n nodig. Moenie probeer om alles in die lewe self te doen nie. Luister na jou hartsmense en vertrouelinge om jou en moenie hardkoppig wees nie.

• Om die dorings uit te haal is seer en gevaarlik. Ongelukkig moet jy die pyn verduur, want sonder pyn gaan jy nie maklik loskom nie. Baie mense sit eerder vir altyd in die bos vas omdat hulle bang is vir die pyn. Onthou, die pyn wat jy moet verduur van ‘n doring wat in jou vinger vassit, is dalk nou ‘n klein opoffering, maar dit spaar jou van soveel groter en erger pyn later in jou lewe.

Jesus het gesterf sodat ons die lewe reeds op aarde in oorvloed kan hȇ en kan vry wees van ons verlede! Vra Jesus vandag om jou los te maak van die dorings in jou lewe wat jou verstrengel het sodat jy onmiddellik splinternuut en rein jou nuwe lewe saam met Hom kan begin!!